Laerskool Dirkie Uys

 

Jou toekoms begin hier

 

Moorreesburg

 

Welkom by Laerskool Dirkie Uys

Aansoekvorm vir toelating Gr 4 tot 7
Aansoekvorm vir toelating Gr R tot 3
Voorbladaansoek Gr. 4 – 7
Voorbladaansoek Gr. R – 3 

Laerskool Dirkie Uys is ‘n tradisieryke Afrikaanse skool geleë in Moorreesburg, die hartjie van die Swartland.  Hier is ons almal deel van ‘n wenspan, ‘n span wat verseker dat ons leerders se belange eerste gestel word.

Die skool word ondersteun deur ‘n kundige beheerliggaam en ouer-onderwysers vereniging.  Saam is ons trots om deel te wees van een van die voorste laerskole in die Swartland en Wes-Kaap.

Die personeel van Laerskool Dirkie Uys het ‘n passie vir die onderwys en leerders word as gerespekteerde individue beskou en aangemoedig om hulle volle potensiaal op akademiese, sosiale, emosionele en fisiese gebied te bereik.  Ons glo dat hierdie elemente die bousteen vorm van enige leerder se toekoms.

As venote in die onderwys en opvoeding van ons kinders, vorm ons ouergemeenskap ‘n integrale deel van die opvoedingspan. Ons waardeer elkeen se insae en moeite wat gedoen word om die wenspan te ondersteun opreg.

Die skool sien uit daarna om ‘n bydrae te lewer tot die opvoeding en toekoms van u kind.

 

Missie

Laerskool Dirkie Uys poog om deur die medium van Afrikaans, opvoeding aan te bied wat die volle ontwikkeling van elke individuele leerling nastreef, deur middel van die volgende:  

Onderrig deur professionele toekomsgerigte onderwyspersoneel op die hoogste vlak.

Goeie balans tussen die geestelike-, skolastiese-, kulturele- en sportbedrywighede. 

‘n Skoolpraktyk wat Christelik gefundeer is en waarin leerlinge en onderwysers doelbewus aangemoedig word in die uitlewing van Christenskap.

Visie

Laerskool Dirkie Uys glo in God drie-enig onder wie se leiding ons doelbewus ons onderwys- en opvoedingstaak onderneem. 

Ons glo in die kind, eerbiedig sy persoonlikheid en wil leerlinge met liefde help om hulle talente te ontdek en te ontwikkel en toe te rus met ‘n waardesisteem wat hulle in staat sal stel om, in die lig van kennis, offervaardighede en dienswilligheid begelei te word tot ‘n selfstandige, nuttige en verdraagsame individu wat binne die kulturele verband van ons gemeenskap, sowel as die breë nasionale verband, hul plek met selfvertroue en bekwaamheid sal kan volstaan.

Laerskool Dirkie Uys waardes

 
 

  • By Laerskool Dirkie Uys leer ons om te luister
  • Mors ons nie
  • Praat ons die waarheid
  • Is ons skoolklere netjies
  • Sê ons dankie en asseblief
  • Help ons mekaar
  • Sê ons jammer
  • Werk ons meer, praat ons minder
  • Gebruik ons nie vuiltaal nie
  • Stap ons in rye

 

Laerskool Dirkie Uys Skoollied

“Op Moorreesburg, mooi Moorreesburg Waar die grane golwend waai, Lag die veldblom op die lande,

Groei die saad van boer gesaai.

Kom voorwaarts, trou, slagvaardig, ons skool moet altyd groei, Met hand en voet, Met hoof en hart,

Tot ongekende bloei.

Laat Moorreesburg  op ons trots wees, Al is ons ook lank reeds weg. Bly net trou aan ideale

Staan vir opgang en vir reg.

Kom voorwaarts, trou, slagvaardig, ons skool moet altyd groei, Met hand en voet,Met hoof en hart,

Tot ongekende bloei.”